VORIGE KONSERTE


2022 ORRELKONSERTE

Prof. Wim Viljoen Huldigingskonsert

2022


NG Universiteitsoord het op 16 Maart ’n konsert aangebied om Prof. Wim Viljoen te huldig en dankie te sê vir 30 jaar se dienslewering as orrelis van die gemeente. Prof Viljoen is in 1991 as NG Universiteitsoord se tweede orrelis aangestel. Die konsert is aangebied in dieselfde maand as die komponis Johann Sebastian Bach se verjaardag. Aangesien prof Viljoen ’n groot liefde vir Bach se musiek het en dit gereeld in sy loopbaan as orrelis uitgevoer het, was dit daarom ’n gepaste tema vir die huldigingskonsert van een van Suid-Afrika se beroemde orreliste.

 

Die kunstenaars vir die konsert het Prof. Viljoen se oud-studente, kollegas en vriende ingesluit, naamlik die violis Zanta Hofmeyr en die orreliste Dr. Isabelle van Rensburg, Andrea Kayser-Mitas, Betsie Schaap, Prof. Theo van Wyk en Dr. Ockie Vermeulen. Hulle het prof Viljoen se gunsteling Bach-werke uitgevoer. Drie van Bach se groot kontrapuntale werke, naamlik die Tokkate en Fuga in F majeur, die Prelude en Fuga in A mineur en die Fantasie en Fuga in G mineur het onder andere deel van die program gevorm.

 

Oud-studente, kollegas en vriende van Prof. Viljoen het die geleentheid gehad om iets oor hom te skryf en dit is vasgevang in ’n program wat

NG Universiteitsoord elektronies beskikbaar gestel het. ’n Luukse hardekopie van die program is daardie aand aan Prof. Viljoen oorhandig. ’n Skakel na die program kan hier gevind word: https://drive.google.com/file/d/13qDHm2HIZOEgXPGSPY66s0eay1e4zvyQ/view?usp=sharing

 

Die huldigingskonsert is deur byna 800 mense bygewoon.

  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button

Dit was lekker om die kerk amper propvol te sien en verblydend dat soveel mense Bach se orrelmusiek steeds geniet.

Dankie aan al die kunstenaars  Andrea Kayser-Mitas "The Organist", Betsie Schaap, Ockie Vermeulen, Theo van Wyk wat só fantasties gespeel het. Zanta Hofmeyr se vioolspel was, soos altyd, aangrypend en het baie mense se harte geraak.

Vir elkeen wat moeite gedoen het om Prof. Viljoen en orrelmusiek te ondersteun, baie dankie.

Herfskonsertreeks

2022


NG Universiteitsoord het in Meimaand ’n konsertreeks aangebied met drie konserte. Die eerste konsert, “A night at the movies” het bekende musiek uit films ingesluit. Dit was uitgevoer deur 22 musikante wat deel is van die aanddiensmusiekgroep. Tien sangers, twee trompette, twee violiste, tjello, fluit, twee kitare, baskitaar, trom, klavier en orrel het ssamgewerk onder die leiding van NG Universiteitsoord se pianis, Anria Breytenbach. Die orrel het saamgeklink in No time for Caution uit Interstellar, The Phantom of the Opera, Pirates of the Carribean, Welcome to Jurrasic World, asook Hedwig’s Theme in Harry Potter and the philosopher’s stone.

 

Twee orrelkonserte het ook deel van die konsertreeks gevorm en het direk ná die erediens op twee Sondae plaasgevind. Die eerste konsert,

Andrea Kayser-Mitas en musiekvriende, het pragtige orrelmusiek van Karg-Elert, Rutter, Henk Temmingh, David German en Widor ingesluit. Haar program het óók bestaan uit musiek vir viool, saksofoon en klarinet wat deur haar dogter Emily Mitas en man, Edwin Mitas uitgevoer.

Die gehoor het ook geluister na ’n beweging uit Triptych Carolingian Temperaments vir orrel en saksofoon deur die Suid-Afrikaans gebore komponis, Jacobus Kloppers. Die program was baie toeganklik en die gehoor was veral beïndruk met Andrea se vertolking van die Tokkate deur Widor.

 

Die tweede konsert, Clair de Lune is uitgevoer deur die orrelis Marnus Greyling. Hy het die konsert geopen met Johann Gotfried Walther se verwerking van Antonio Vivaldi se konsert in B mineur. Die titel van die program was vervat in die komposisie deur Louis Vierne. Twee komposisies deur komponiste van ’n Engelse afkoms het die orrel se verskeie klankkleure veral ten toon gestel in “Prelude and Angel’s Farewell” uit The Dream of Getontius deur Edward Elgar en ’n Elegy deur George Thalben-Ball. Die konsert is afgesluit met ’n Tokkate deur Joseph Callaerts waarin Marnus sy virtuose tegniek ten toongestel het.


  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button

Die gehoor kon vir hierdie orrelkonserte ’n blik van die speeltafel kry aangesien die beeld op twee groot skerms voor in die kerk geprojekteer is. Albei orrelkonserte is deur sowat 120 mense bygewoon.

Winterkonsertreeks

2022


NG Universiteitsoord het die koue wintermaande in Pretoria warm gemaak met ’n reeks konserte wat hulle aangebied het as die Winterkonsertreeks 2022.

Vyf konserte is deur nasionale en internasionale orreliste aangebied en een konsert deur NG Universiteitsoord se aanddiens musiekgroep. Hierdie konserte was op verskeie Sondae om 11:00 aangebied. Die gehoor het programme ontvang wat in kleur uitgedruk is en ontwerp is deur een van die gemeentelede, Marieke Odendaal. Donasies is as toegang vir hierdie konserte gevra en elke geleentheid is afgesluit met ’n heerlike kuier rondom ’n glasie sjerrie.


Op 17 Julie het NG Universiteitsoord se orrelis, Dr Isabelle van Rensburg, die Winterkonsertreeks geopen met werke wat Johann Sebastian Bach as jong komponis geskryf het, Mendelssohn se sesde Sonate en ’n werk deur die Amerikaanse komponis, Horatio Parker. Die gehoor het veral van die verwerking van Sergei Rachmanninoff se Prelude in G Mineur gehou en Theo van Wyk se Tokkate op Nun danket alle Gott. 


Die tweede konsert is deur die Nederlandse orrelis Jaap Kramer aangebied. Jaap glo dit is sy roeping om sy Christenskap deur musiek uit te leef. Sy program het ook daarby aangesluit en vele koraalvoorspele van Nederlandse komponiste ingesluit. 


“Another night at the movies” was ’n opvolg van “A night at the movies” en die derde konsert waarna mense uitgesien het. Dit het musiek van bekende films ingesluit en die gehoor kon popcorn en koeldrank binne die kerkruim geniet terwyl hulle na filmmusiek luister. Die orrel het saam met die kontemporêre musiekgroep geklink in die filmmusiek van Interstellar, The Phantom of the Opera en Hedwig’s Theme uit Harry Potter.


Dit was ’n groot voorreg vir NG Universiteitsoord om die orrelis Wolfgang Zerer uit Hamburg by die Winterkonertreeks te kon verwelkom. Hy het op 11 Augustus ’n pragtige program gespeel met werke van Dietrich Buxtehude, Olivier Messiaen en César Franck. Die gehoor was veral beïndruk met Bach se triosonate in C majeur, asook ’n Chaconne deur Viktor Gontscharenko (geb. 1959). Gontscharenko is ’n komponis uit Oekraïne en die werk is deur Wolfgang gespeel as teken van solidariteit met dié land.


Die vyfde konsert is deur Pieter van den Berg, die orrelis van die Hervormde Gemeente Pretoria-Oos aangebied. Hy het die trompetspeler, Braam van Tonder saamgebring en het bekende orrel- en trompetwerke aangebied. Pieter se improvisasie op FINLANDIA, het die gehoor diep geraak.


Die Winterkonsertreeks is afgesluit met ’n uitvoering deur Prof Theo van Wyk. Sy uitvoering was baie toeganklik en het nuwe musiek van lewende komponiste ingesluit. Die gehoor was veral beïndruk met die komposisies van Matthew van Wyk (geb. 1983), Graham Twist (geb. 1953) en Raymond Haan (geb. 1938). Die program is afgesluit met Petr Eben se uitdagende komposisie Moto Ostinato uit ‘Musica Dominicalis’.

  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button

Die orrelkonserte is deur sowat 100 mense bygewoon en Prof Wim Viljoen was die eregas by elke konsert. 


NG Universiteitsoord se orrel is in 1967 gebou en die grootste orrel wat destyds deur die Suid-Afrikaanse Orrelbouers gebou is. Die orrel besit 41 registers en 3029 pype. Alhoewel dit binnekort tyd is vir die orrel se retourasie, is die instrument in ’n uitstekende werkende toestand en geniet orreliste en orrelliefhebbers steeds die pragtige klanke van hierdie instrument. 

Share by: