2023 ORRELKONSERTE

NG Universiteitsoord besit die grootste orrel wat deur die destydse Suid-Afrikaanse Orrelbouers gebou is. Die orrel het oor die 3000 pype en om hierdie pagtige instrument te vier, bied NG Universiteitsoord gereelde orrelkonserte op Sondae om 11:00 aan. Toegang vir die konserte is ’n donasie.

 

Die eerste konsert vir 2023 is op Sondag, 26 Februarie aangebied deur die Rooi4 Orrelduo. Die orreliste, Dr. Isabelle van Rensburg en Dr. Andrea Kayser-Mitas het ’n splinternuwe program vir hierdie konsert saamgestel wat bestaan het uit danse vir orrelduo. Dans Macabre deur Camille Saint-Saëns, Dance Suite for Organ Duo deur Jacobus Kloppers, asook Polka’s, Walse en Mennuette het geklink. Die Nederlandse orrelis, Minne Veldman, het as deel van sy vyfde konserttoer deur Suid-Afrika op 3 Maart ’n konsert by NG Universiteitsoord aangebied. Sy program het nie slegs verwerkings van Nederlandse komponiste se musiek ingesluit nie, maar óók die Passacaglia en Fuga (J.S. Bach), die Finale uit César Franck se ses stukke vir die orrel en Léon Boëllmann se Suite Gothique.

 

In Meimaand is vier konserte aan gebied as deel van die Herfskonsertreeks. Winand Grundling het al die pad van Stellenbosch af in Pretoria kom kuier. Sy program het van sy eie, opwindende verwerkings van bekende korale ingesluit. Op Moedersdag het die orreliste, Dr. Andrea Kayser-Mitas, vroue vereer in haar uitvoering met orrelmusiek deur vroue-orrelkomponiste. Dit is nie elke dag dat vroue-orrelkomponiste op die voorgrond geplaas word nie en ons is dankbaar om ’n orrelis in Suid-Afrika te hê wat ook daarin spesialiseer. Die Johannesburgse orrelis, Pharny Chrysler-Fox, het kragte ingespan saam met die liriese koloratuur-sopraan, Linelle Wimbles, in ’n program getiteld “Nadenke”. Die Herfskonsertreeks is afgesluit met ’n uitvoering deur Daniël Nel. Sy program, “Van Portugal na Pretoria”, het komponiste wat hulself vir ’n tydperk van hul lewe in Portugal en Pretoria bevind het, ingesluit. Die gehoor kon luister na Fr. Diego da Conceição (1549-1597), Chris Lamprecht, Stefans Grové en Gerrit Jordaan.

 

NG Universiteitsoord voel bevoorreg om orrelkonserte in Pretoria aan te kan bied en hul instrument met orreliste en luisteraars te kan deel. Die orrel is in 1967 gebou en daar word hard gewerk aan die orrel se retourasie wat in die nabye toekoms aanvang sal neem.


Herfskonsertreeks

2023


Met dae wat korter (en donkerder) word keer ons dikwels na binne gedurende herfs. Elke dag word die wonder van God se skepping tasbaar soos wat die bome verkleur en die lug rondom ons kouer word. Dan is dit juis gepas om ‘n konsertreeks na dié seisoen te vernoem. Herfs is ‘n tyd vir nadenke en dit was presies wat Universiteitsoord bereik het met die uitmuntende Herfskonsertreeks gedurende die maand van Mei. Sondag na Sondag kon ek nie wag vir die reis waarop die muskiek my gaan neem nie.


 Die akoestiek wat die kerkgebou van Universiteitsoord bied was met elke uitvoering optimaal gebruik. Universiteitsoord se orrel (wat beskou kan word as die gemeenskap van Pretoria se orrel) het tot sy volle reg gekom tydens al die konserte.


 Op 7 Mei het Winand Grundling met ‘n opgewondenheid sy passie met ons kom deel. Moedersdag is gepas gevier met komposisies van vroue-orrelkomponiste wat Andrea Kayser-Mitas met presisie vertolk het. Kinders wat vêr is en ouers wat nie meer met ons kan wees nie, kon in elke werk aangevoel word. Die program van sopraan Linelle Wimbles wat begelei is deur Pharny Crysler-Fox (wat op sy eie ‘n opwindenheid gebring het) het vir hoendervleis gesorg. Die konsertreeks sluit af met niemand anders as Daniël Nel al die pad van Portugal af.


Ek het groot waardering vir Dr. Isabelle van Rensburg (ons eie orrelis), met haar insig en passie, om vir ieder en elke smaak in die programme te kon voorsien. Elke Sondag se program was noukeurig uitgewerk met ‘n balans wat mee-gebring het dat almal maklik na elke werk kon luister en waardeer.

Dankie aan een en almal wat betrokke was met die reëlings van die Herfskonsertreeks. Doe zo voort! - Magda de Beer


  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button



Vroegherfs

Die jaar word ryp in goue akkerblare,

in wingerd wat verbruin en witter lug

wat daglank van die nuwe wind en klare

son deurspoel word - NP van Wyk Louw


Winterkonsertreeks

2023


Warm orrelklanke in Pretoria se Wintermaande: NG Universiteitsoord se Orrelkonsertreeks 2023 – Dr. Isabelle van Rensburg

 

Terwyl ’n hele paar kouefronte vir ’n droë en dor Winter in Pretoria gesorg het, was NG Universiteitsoord 'n toevlugsoord vir vele musiekliefhebbers. 'n Reeks boeiende orrelkonserte het die harte van almal wat dit bygewoon het, warm gemaak. Die Winterreeks van die Orrelkonsertreeks 2023 is noukeurig en met sorg saamgestel en het 'n diverse reeks talentvolle orreliste en musikante ingesluit.

 

Die konsertreeks het afgeskop met die Nederlandse orrelis, Marco den Toom. Sy repertorium het klassieke meesterskap ten toon gestel en lewe in komposisies deur Klaas Jan-Mulder en Felix Mendelssohn geblaas. Die Adagio van Albinoni en unieke improvisasies op liedere gekies uit die gehoor, het veral uitgestaan. Marco se meesterlike registrasiekeuses het die orrel se volledige klankpalet na vore gebring.

 

Die tweede konsert was 'n samewerking tussen die orrelis Pharny Chrysler-Fox en die dinamiese Koperblaaskwintet, BrassBerries. Sáám het hulle 'n simfonie van klanke laat klink wat die gehoor in vervoering gehad het. Sigfried Karg-Elert se "Praise the Lord with Drums and Cymbals", versterk deur die toevoeging van timpani, is veral deur jonk en oud geniet. Die konsert het sy hoogtepunt bereik met die kragtige Finale uit Joseph Rheinberger se orrelkonsert en die Maestoso uit Saint-Saëns se derde simfonie.

 

Talente van Professor Theo van Wyk en sy orrelstudente is in die derde konsert van die reeks ten toon gestel. Lydia Weber, Dérion-Lee May, David Marsden, Faan Smit, Phemelo Vincent Mogashoa en Waldo Jones het agter die speeltafel gepryk met 'n tapisserie van werke van Buxtehude tot Jean Alain. Die uiteenlopende program het die virtuositeit en omvang van die volgende generasie orreliste vertoon.

 

Die Orrelkonsertreeks van 2023 het ’n hoogtepunt bereik met die voorlaaste optrede deur die huidige orrelis, Dr. Isabelle van Rensburg, saam met die bedrewe trompetspeler Anton Delen. Die program het Anton se gunsteling trompetwerke vertoon, vergesel deur Isabelle se vertolking van Widor se Allegro uit die 6de Simfonie. Die gehoor was betower gelaat deur hierdie dinamiese duo.

 

Die Grand Finale van die 2023-reeks was 'n magiese Kersfeesviering. Die orreliste Prof. Theo van Wyk, Dr. Andrea Kayser-Mitas en Dr. Isabelle van Rensburg het kragte saamgespan met die trompetspelers Braam van Tonder en Barry Grobbelaar, asook die sopraan Anina Wassermann. Tesame hiermee het studente van Universiteitsoord ook hulle talente gedeel en die gehoor kon na die sopraan Carmen Potgieter, die violis Elianna de Clerque en saksofoonspeler Lourie Bosman luister. Hierdie samewerkingspoging was 'n musikale fees wees wat 'n diverse gehoor gelok het.

  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button

NG Universiteitsoord het twaalf orrelkonserte in 2023 aangebied. Dit was 'n dawerende sukses gewees en het gehore wat wissel van 60 tot 300 mense per konsert gelok. Die uitstaande gehalte van orrelspel, vindingryke programsamestelling, asook die talente van gewaardeerde en opkomende orreliste, het die 2023-reeks verstewig as 'n hoogtepunt van die kultureële kalender in Pretoria en omgewing. Namate die laaste eggo's van die twaalf konserte van die 2023-reeks verdwyn, bou afwagting op vir toekomstige seisoene wat beloof om hierdie tradisie van musikale uitnemendheid voort te sit.

Share by: