2024 ORRELKONSERTE

Orrelkonsertreeks Deel 1

2024


NG Universiteitsoord se 2024 Orrelkonsertreeks: 'n Simfonie van musiek

NG Universiteitsoord het ‘n reeks orrelkonserte aangebied waarin die orrel tesame met musikale vriende op die voorgrond geplaas is. 'n Magdom van musikale talent en uitnemendheid het in vier unieke konserte die harte van musiekliefhebbers in Pretoria betower.

 

'n Ode aan vroulike uitnemendheid

Die reeks het afgeskop met 'n konsert op 10 Maart waar NG Universiteitsoord saam met orreliste regoor die wêreld, Internasionale vrouekomponiste gevier het. Hierdie besondere geleentheid het die talent van Dr. Andrea Kayser-Mitas op die orrel in die kollig geplaas saam met 'n ensemble van merkwaardige vrouemusici. Hulle het ingesluit Ané van Staden op viool, Bella Divine op saksofoon, en Katia Sokolova op tjello. Komposisies deur vroue-orrelkomponiste is in hierdie program aangebied. Sielvolle vertolkings en virtuositeit het veral uitgestaan in die musiekitems. Die konsert het musikale diversiteit en die krag van vroulike uitnemendheid in die musiekbedryf gevier.

 

Gewyde Konsert: 'n Spirituele Reis deur Klank

Die tweede konsert het 'n gewyde atmosfeer geskep met 'n vertoning van musiek verweef met die sewe laaste woorde van Jesus aan die kruis. Die gehoor is meegesleur op 'n spirituele reis deur klank, met komposisies van Thomas Albinoni, Arvo Pärt, Karl Jenkins, Charles Gounod, Cesár Franck en John Williams wat diepe bepeinsing opgeroep het. Die talente van die sopraan Carmen Potgieter, tenore Ordino Kock en Pierre van der Merwe, asook vioolspeler Carin Janse van Vuuren, het onder leiding van Dr. Isabelle van Rensburg saamgesmelt en 'n aangrypende ervaring gebied.

 

Boeiende Ontmoeting van musiek en tradisie

Die derde konsert in die reeks het 'n boeiende ontmoeting van musiek en tradisie gebied met die bekroonde violis Zanta Hofmeyr en orrelis Dr. Isabelle van Rensburg. Dit was van die staanspoor af duidelik dat kundigheid en vaardigheid op die hoogste vlak sal seëvier. Die program het 'n ryk tapisserie van musikale genot gebied, met 'n verskeidenheid repertorium wat oor eeue en kontinente strek. Hierdie konsert het nie nét 'n ode aan die uitnemende vlak van spel gebring nie, maar óók die impak van beide Hofmeyr en Van Rensburg se aandeel in die musiekgemeenskap gevier.

 

Harmonie van Klavier- en Orrelduet

Die reeks het afgesluit met 'n betowerende ervaring van klavier- en orrelduette met Prof. Albert Troskie en Dr. Erika Bothma-Troskie wat hul talent ten toon gestel het. Die gehoor is meegesleur deur die smaakvolle verwerkings en sensitiewe uitvoering van kermusiek en ander bekende melodieë. Dit was die musici se eerste openbare uitvoering as ‘n getroude egpaar en voorwaar spesiaal om hulle by NG Universiteitsoord te kon ontvang.

  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button
  • Slide title

    Write your caption here
    Button

NG Universiteitsoord se Orrelkonsertreeks 2024 het sover 'n onvergeetlike indruk gemaak op gehore. Elke konsert het 'n unieke reis deur die wêreld van musiek gebied. Met die kollig op die talente van verskeie orreliste se samewerking met ander instrumente, was hierdie reeks 'n viering van die krag wat musiek besit om harte te verryk en siele te inspireer.

Share by: