Baie welkom by ons tweede preekreeks vir 2026!
In hierdie reeks gesels ons oor genadegawes – die unieke gawes wat die Here aan elkeen van ons gee om Hom en ander te dien.
Dié gawes definieer jou nie, en dit is ook nie iets wat vir altyd dieselfde bly nie. God gee en ontwikkel gawes volgens die seisoene, omstandighede en roeping van ons lewens.
Daarom noem ons hierdie reeks Under Construction. Net soos 'n gebou voortdurend aan ontwikkel en verbeter word, is God ook voortdurend besig om aan ons te werk en ons toe te rus met die gawes wat ons op daardie stadium nodig het.
Ons glo dat jy in hierdie reeks iets meer gaan ontdek van hoe die Here vir jóú gemaak het en watter talente en vaardighede hy vir jou gegee het, maar ook dat jy saam gaan bou en jou gawes sal ontwikkel en gebruik om God se wêreld te vestig. Jy kan sommer sien die bou-metafore loop dik (en pas natuurlik sommer perfek by ons eie kerk se bouprojek wat tans vorder!). Ons maak in hierdie reeks gebruik van Gert Cordier se boek “Vind jou hoed” en jy is welkom om ook die boekie self te bekom – die kantoor kan jou daarmee help.



Sluit aan by ons GROEPSESSIES elke week Dinsdae om 19:00. Alle studente (koshuis en dagstudente) en Medius (ons jongwerkendes) is welkom. Ons gaan elke week ons gawes opnuut ontdek en saam dink oor hoe ons hierdie GENADEGAWES kan uitleef!
Die gawe wat die Here vir jou gegee het is juis daar om ander nader aan Christus te bring en om ander te help om te kan groei en verdiep in hulle verhouding met die Here. Daarom is die groot vraag: hoe gaan jy nou jou gawe gebruik? Waar gaan jy verder met hierdie gawe bou aan die koninkryk van God?
Kom gesels saam by ons weeklikse groepsessies.
Kontak Ds Anuschka (072 599 0695) Jana (061-483-2960) vir navrae.
WAT IS GENADEGAWES?
As jy nog nooit gehoor het van die “gawes van die Gees” nie, moet jy nie bekommerd wees nie. Ons gaan juis die eerste week in detail gesels oor watse goed gawes is en al jou vrae antwoord.
In die daaropvolgende vyf weke gaan ons die vyf gawes wat in Efesiërs 4 gelys word (naamlik Apostel, Herder, Profeet, Evangelis en Leraar) aan die hand van voorbeelde bespreek en ook saam dink hoe dit in ons tyd gebruik kan word.
WAT OM TE VERWAG:
Jy gaan waarskynlik iets nuuts in jouself ontdek. Jy gaan ook hoor dat jou gawes nie in beton gegiet is nie, maar kan verander.
Dit is belangrik om te besef dat die Here nie vir ons gawes gee om onsself te verheerlik nie, maar baie spesifiek om Hom te eer, mense te dien en ‘n verskil in die wêreld te maak.
WAAR BEGIN EK?
Ons gaan wegspring met ‘n gawes-vraelys wat jy gerus kan voltooi.
Dit gaan lekker wees om te sien waar die Here vir jou met jou eie, unieke gawes wil gebruik!
Die Here gee aan elkeen van ons ’n unike gawe, waarmee Hy ons toerus vir elke seisoen in ons lewens. Jy kan die volgende stappe neem om te ontdek watse gawe die Here moontlik vir jou gegee het.
Só werk dit:
1️⃣ Scan die QR-kode of volg die skakel hier onder. Dit neem jou na ’n Gawe van die Gees vraelys.
2️⃣ Neem 'n oomblik om rustig te word.
3️⃣ Kies telkens die eerste antwoord waarna jy gelei voel.
4️⃣ Antwoord eerlik volgens wie jy nou is.
5️⃣ Ontdek watter kleur hard hat jy dra! 🎉




