PREEKREEKS 2026



BEGIN BY DIE BEGIN



Dit is altyd lekker om ‘n nuwe jaar af te skop en om so ‘n nuwe begin te maak. Dít is wat ons met hierdie reeks ook wil doen: om 2026 reg te begin. Mag hierdie dan die begin van ‘n groot jaar wees, vol pret en verrassings, groei en ook diepte. As jy vanjaar eerstejaar is, is hierdie die begin van die heel beste tyd van jou lewe. Jy gaan nuwe vriende maak, nuwe dans moves leer, nuwe vryheid smaak, laataand kuier, hopelik jou studies geniet en waarskynlik ook harder leer as oot tevore. Geniet elke oomblik! Seniors maak ook ‘n nuwe begin met nuwe vakke, verhoudings, dalk blyplek of graad … en ‘n nuwe poging om vanjaar ingenieurswiskunde deur te kom.








Ons gaan vanjaar die Bybel ook by die begin oopmaak. Genesis, die heel eerste boek van die Bybel, beteken letterlik “begin” of “bron” in die oorspronklike Grieks. Ons gaan lees uit die eerste 11 hoofstukke, wat bekend staan as die “oergeskiedenis”, omdat hierdie stokou stories die begin van die wêreld en die patrone van mense beskryf. Jy ken die verhale nog uit jou kinderbybel, maar ons gaan jou leer om nou as volwassene nuut hierna te kyk – dalk verbaas te wees oor die wonderlike verrassings en beloftes in die teks.   


Jy gaan ook vir God leer ken as die Begin van alles. My en jou storie begin by die Here wat ons skep, liefhet, vrymaak en versorg nog vóór ons daarvoor vra. Hy maak ons wie ons is (identiteit), en alles wat ons doen is maar net om vir Hom dankie te sê. Hierdie ding dat die Here ons kies voor ons Hom kan kies, noem ons die verbond: God sluit ‘n verbond met ons. knoop Homself vas aan ons. Daarom kan Christene ‘n bietjie ligter en vryer deur die lewe gaan.   



                                Temas



Ons gaan dis God probeer om elk ons eie begin, die Bybel se begin en God as die begin bymekaar te bring oor ses weke:



Week 1 (15 Feb): Wat skep God? (Gen 1) – Anuschka Smit

Week 2 (22 Feb): Skeppingsverhaal 2.0 (Gen 2) – Christian Oberholzer

Week 3 (1 Maart): Vrot appel (Gen 3) – Arno Meiring

Week 4 (8 Maart): Oppas (Gen 4) – Anuschka Smit

Week 5 (15 Maart): Vloek of seën (Gen 9) – Christian Oberholzer

Week 6 (22 Maart): Torings (Gen 11) – Arno Meiring

GROEIGROEPE

NG Universiteitsoord het weekliks kleingroepe van studente (koshuis or dagstudente) wat saam Bybelstudie hou en deur die Preekreeksboekie werk. Die groepe kom bymekaar by die kerk, in koshuise of by ‘n huis. Groeigroepleiers kry weekliks opleiding en word deur predikante ondersteun. Raak deel van een van hierdie groeigroepe, vind ‘n gemeenskap en maak nuwe vriende. 

Kontak Ds Anuschka (072 599 0695) Jana (061-483-2960) vir navrae.